As tiener was ek soms weerbarstig wanneer my ma my probeer bemoedig het om te bly glo. “Vertrou op God. Hy sal vir jou sorg” sou sy sê. “Dis nie so eenvoudig nie, Ma!” sou ek snou. “God help diegene wat homself help!”

Maar die woorde: “God help diegene wat homself help!” kom nêrens voor in die Bybel nie. Trouens, God se Woord leer ons om op Hom te vertrou vir ons daaglikse behoeftes. Jesus het gesê: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle dan nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Matt. 6:26–27).

Al ons genietinge, selfs die krag om ’n inkomste te verdien en “onsself te help,” is geskenke van ’n hemelse Vader wat ons liefhet en waarde – ver bo ons begrip – aan ons heg!

Teen die einde van Ma se lewe het Alzheimer se siekte haar van haar kreatiewe denke en herinneringe beroof, maar haar geloof in God het bly staan. Sy het ’n tyd lank by ons gebly, waar ek eerstehands kon waarneem hoe God op onverwagse wyses in haar behoeftes voorsien het. Dít het my gehelp om in te sien dat sy nog altyd reg was. Sy het haar nie bekommer nie, maar vertrou op die Een wat belowe het om vir haar te sorg. En Hy het bewys dat Hy getrou is.