Dit was ’n ellendige week. Ek was tam en lusteloos al het ek nie geweet waarom nie.

Teen die einde van die week het ek uitgevind dat my tante nierversaking het. Ek het geweet ek moet haar besoek, tog wou ek eerder die afspraak uitstel. Ek is toe na haar toe, waar ons saamgeëet, -gesels en -gebid het. ’n Uur later is ek huis toe en vir die eerste keer in dae het ek sterker gevoel. Dit het my bui verbeter om eerder op iemand anders te fokus as op myself.

Sielkundiges het bevind dat gee, as ’n daad, bevrediging kan verskaf. Dit gebeur wanneer die gewer die ontvanger se dankbaarheid waarneem. Sommige kenners beweer selfs dat die mens bedraad is om vrygewig te wees!

Dit is waarskynlik waarom Paulus, toe hy die kerk in Tessalonika aangemoedig het om hul geloofsgemeenskap te versterk, by hulle aangedring het “om die swakkes te help” (1 Tess. 5:14). Hy het vroeër ook Jesus se woorde aangehaal: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand. 20:35). Hoewel dit betrekking het op finansiële gawes, is dit ook van toepassing op die tyd en inspanning wat ’n mens opoffer.

Wanneer ons gee, begin ons verstaan hoe God voel. Ons verstaan waarom dit Hom bly maak om ons lief te hê, en ons deel in Sy vreugde en in die bevrediging om ander te seën. Ek dink ek sal gou weer by my tante uitkom.