Daar staan ’n groot glaskruis op my kollega, Tom, se lessenaar. Sy vriend, Phil, wat soos Tom, ook kanker oorleef het, het dit aan hom gegee om hom te help om alles “deur die kruis” te sien en om hom aan God se liefde te herinner.

Dit is ’n uitdaging vir almal wat in Jesus glo, veral in moeilike tye. Dit is baie makliker om op ons eie probleem te fokus as op God se liefde.

Paulus se lewe bied aan ons ’n goeie voorbeeld van ’n lewe wat op die kruis gerig is. Hy beskryf sy lyding en sê hy “word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie” (2 Kor. 4:9). Hy het geglo dat God in moeilike tye werk en dat Sy werk eindig “op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare” (vv. 17–18).

Om ons oë nie op die sigbare dinge te rig nie, beteken nie dat ons die probleem verminder nie. Paul Barnett verduidelik dit soos volg: “Daar moet vertroue wees, gegrond op die sekerheid van God se doel vir [ons] … Aan die anderkant is daar die nugtere wete dat ons hoopvolle versugtinge met pyn vermeng word.”

Jesus het sy lewe vir ons gegee. Sy liefde is diep en opofferend. Soos ons dan “deur die kruis” na die lewe kyk, sien ons Sy liefde en getrouheid raak. Dan groei ons vertroue in Hom.