Bekommer jy jou ook oor alles? Ek sukkel byna daagliks met bekommernis en angstigheid. Ek was maar ’n tienderjarige toe ek eenkeer die polisie geskakel het omdat my ouers nie teen die verwagte tyd tuis was nie.

Die Skrif vermaan ons herhaaldelik om nie bang te wees nie. Omdat God goed en magtig is en Hy Jesus gestuur het om in ons plek te sterf en die Heilige Gees om ons te lei, is dit nie nodig dat angs ons lewens hoef te beheer nie. Al gebeur dit dat moeilikheid ons in die gesig staar, God het belowe om altyd met ons te wees.

Jesaja 51:12–16 is ’n skrifgedeelte wat my in tye van benoudheid baie gehelp het. In dié gedeelte herinner God Sy mense, wat ontsettende lyding moes verduur, dat Hy met hulle is en dat Sy gerusstellende teenwoordigheid die uiteindelike werklikheid is. God herinner ons deur die profeet Jesaja, ongeag hoe sleg omstandighede mag voorkom: “Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle” (vs. 12).

Ek het hierdie gerusstellende belofte baie lief. Ek het herhaaldelik aan hierdie belofte vasgehou as die lewe vir my oorweldigend geraak het en my eie “verdrukker” my beproef het. In hierdie skrifgedeelte herinner God my om weg te kyk van my vrese en in geloof en afhanklikheid op te kyk na die Een wat “die hemel oopgespan het” (vs. 13) – die Een wat belowe het om ons te troos.