Toe Benjamin Franklin jonk was, het hy ’n lys van twaalf deugde waarna hy strewe, opgestel. Hy het dit aan ’n vriend gewys,wat voorgestel het dat hy “nederigheid” byvoeg. Franklin het daarvan gehou en ’n paar riglyne bygevoeg om hom te help. Vir sy idees oor nederigheid, het hy Jesus as voorbeeld gebruik.

Jesus wys ons die volmaakte voorbeeld van nederigheid. God se Woord leer ons “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moet vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Filippense 2:5–7).

Jesus toon die grootste nederigheid van almal. Hoewel vir ewig by die Vader, het Hy gekies om in liefde onder ’n kruis te buk sodat, deur Sy sterwe, Hy almal wat Hom aanvaar, kan opneem in die vreugde van Sy aansyn.

Ons boots Jesus se nederigheid na wanneer ons, deur ander te dien, ons Hemelse Vader soek. Jesus se welwillendheid help ons om ’n asemrowende blik te kry van die skoonheid om onsself eenkant te plaas om na ander se nood om te sien. Om te mik na nederigheid is nie maklik in ons “ek eerste” wêreld nie. Terwyl ons gekoester rus in ons Verlosser se liefde, sal Hy ons alles wat nodig is, gee om Hom te volg.