Ons besoek aan die Christ Church Cathedral in Stone Town, Zanzibar, het ons diep ontroer. Dit staan op die terrein wat eens die grootste slawemark in Oos-Afrika was. Die ontwerpers van die katedraal wou met ’n sigbare simbool aandui hoedat die evangelie die kettings van slawerny verbreek. Dit sou nie langer ’n plek van bose dade en aaklige wreedhede wees nie, maar God se ryke genade versinnebeeld.

Die bouers van die katedraal wou uitdrukking gee aan hoe Jesus se dood aan die kruis vryheid van sonde voorsien – dít waarvan die apostel Paulus in sy brief aan die kerk in Efese skryf: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God …” (Ef. 1:7). Die woord “verlos” dui hier op die Ou-Testamentiese begrip van die slawemark, waar iemand ’n persoon of item terugkoop. Jesus koop ’n persoon terug uit ’n lewe van slawerny aan die sonde en verkeerde dade.

In sy openingswoorde in hierdie brief (vv. 3-14), borrel Paulus oor van vreugde by die gedagte aan sy vryheid in Christus. Hy wys, deur die opeenstapeling van lofsange, na God se werk van genade in ons ewige belang deur die dood van Jesus, wat ons van die bande van sonde bevry. Ons hoef nie langer slawe van die sonde te wees nie, want ons is vrygemaak om vir God en tot Sy eer te lewe.