Broer Justice was in alle opsigte ’n werklik getroue persoon. Hy was ’n toegewyde huweliksmaat en in sy werk as ’n posbeampte. Sondae het hy sy amp as leier van ons gemeente ingeneem. Ek het onlangs besoek afgelê by die kerk van my kinderjare en bo-op die regop klavier het dieselfde klokkie gestaan wat broer Justice gelui het om ons in kennis te stel dat die Bybelstudieuur byna om was. Die klokkie het die toets van die tyd deurstaan. En hoewel broer Justice reeds jare lank al by die Here is, duur sy nalatenskap van getrouheid steeds.

Hebreërs 3 bied die lesers ’n blik op ’n getroue dienaar en ’n getroue Seun. Moses se getrouheid as God se “dienaar” is onbetwisbaar, tog word gelowiges geleer om op Jesus te fokus. “Daarom, broers … let op Jesus” (vs. 1). Dít was ook die bemoediging aan almal wat versoeking in die gesig gestaar het (2:18). Hulle sou slegs ’n erfenis nalaat indien hulle Jesus, die Getroue, volg.

Wat doen jy wanneer die winde van versoeking om jou tier? Wanneer jy moeg en uitgeput is en tou wil opgooi? Hebreërs 3:1, volgens The Message-parafrase, nooi ons: “Kyk goed en reguit na Jesus.” Kyk weer na Hom – en weer en weer. Terwyl ons weer ondersoekend na Jesus kyk, vind ons die geloofwaardige Seun van God wat ons die moed gee om saam, as deel Sy huisgesin, te woon.