Toe ’n onderwyser my vra om hulle op ’n uitstappie te vergesel, het ek gehuiwer. Hoe kon ek met ’n verlede vol foute as rolmodel optree? As ek steeds worstel, struikel en terugglip in slegte gewoontes? Met God se hulp kon ek my seun liefhê en opvoed, maar kon Hy my gebruik om ander te dien?

Soms onthou ek steeds nie dat God – die enigste Volmaakte, die Enigste wat harte en lewens kan verander – ons algaande verander nie. Dan herinner die Heilige Gees my hoe Paulus Timoteus aanmoedig het om te volhard met sy indiensopleiding, in sy geloof en om die genadegawes wat God hom gegee het, te gebruik (2 Tim. 1:6). Timoteus kon dapper wees omdat God, sy kragbron, hom sou help om lief te hê en gedissiplineerd te lewe, terwyl hy aanhou groei en elkeen in sy sfeer van invloed gedien het (vs. 7).

Christus red en gee ons krag om Hom met ons lewens te vereer, nie omdat ons spesiale kwalifikasies het nie, maar omdat elkeen van ons waardevolle lede van Sy huisgesin is (vs. 9).

Ons kan met vertroue volhard wanneer ons weet wat ons rol is: om God en ons naaste lief te hê. Christus se rol is om ons te verlos en ons ’n doel te gee wat verder as ons beperkte visie van die wêreld strek. Terwyl ons Jesus daagliks volg, verander Hy ons terwyl Hy ons gebruik om ander te bemoedig deur van Sy liefde en waarheid te vertel, waar Hy ons ook al heen stuur.