“Roei spoed met wortel en tak uit!” Toe twee van my vriende hierdie gesegde van die wyse Dallas Willard aanhaal, het ek geweet ek moet dit ter harte neem. Waar draai ek en waar vermors ek my tyd en energie? Meer nog: waarheen het ek voortgespoed sonder om God om Sy leiding en hulp te vra? In die weke en maande sedertdien, het ek daardie woorde onthou en telkens teruggedraai om op God en Sy wysheid te fokus. Ek het myself daaraan herinner om eerder op Hom te vertrou as op my eie insigte.

Dit is immers waar dat ons frenetiese gejaagdheid die teenoorgestelde is van die volmaakte vrede waarvan die profeet Jesaja praat. Die Here gee dié geskenk aan elkeen wat hulle volle vertroue op Hom plaas en in Hom glo (vs. 3). Ons kan vandag, môre en vir altyd op Hom vertrou, want Hy alleen, “die Here God, is ’n veilige toevlug” (vs. 4). Om ons gedagtes op God te stel en op Hom te vertrou, is die teenmiddel vir gejaagdheid.

Hoe is dit met ons gesteld? Kom ons agter dat ons gejaagd is of selfs net haastig? Miskien beleef ons die teenoorgestelde – vrede! Of dalk bevind ons ons iewers tussen die twee uiterstes!

My gebed is dat ons, ongeag wat ons ervaar, in staat sal wees om ons haas eenkant toe te stoot, en op die Here, wat ons nie in die steek sal laat nie en ons Sy vrede gee, te vertrou.