Ek wou my lewe lank ’n ma wees. Dit was my droom om te trou, swanger te raak en my baba vir die eerste keer in my arms vas te hou. Toe ek uiteindelik trou, het ek en my man dit nie eers oorweeg om te wag voordat ons met ’n gesin begin nie. Met elke negatiewe swangerskapstoets het ons egter besef dat ons ’n stryd teen onvrugbaarheid voer. Maande lange doktersbesoeke, toetse en trane het gevolg. Ons was midde-in ’n storm. Infertiliteit was ’n bitter pil om te sluk, en ek het begin wonder oor God se goedheid en getrouheid.

Wanneer ek terugdink aan ons reis, dink ek aan die verhaal van die dissipels wat in die storm op see vasgevang was. Terwyl hulle in die donker nag probeer roei het, het Jesus onverwags op die onstuimige branders na hulle toe aangekom. Hy het hulle met Sy teenwoordigheid gerusgestel en gesê: “Dit is Ek; moenie bang wees nie” (Joh. 6:20).

Ek en my man het, nes die dissipels, geen idee gehad wat tydens ons storm sou gebeur nie, maar soos wat ons God dieper leer ken het as die Een wat altyd getrou en eg is, het ons troos gevind. Hoewel ons nooit die kind sou hê oor wie ons gedroom het nie, het ons geleer dat ons in al ons swaarkry die krag van Sy kalmerende teenwoordigheid kan beleef. Omdat Hy by ons is, kragtig aan die werk in ons lewens, hoef ons nie angstig te wees nie.