Toe een van ons kollegas vanweë erge pyn nie kon kom werk nie, was almal besorg. Nadat hy hospitaal toe is en ’n dag in die bed deurgebring het, het hy werk toe gekom en ons die oorsaak van die pyn gewys – ’n niersteen. Ek het na die steen gekyk en gekrimp van simpatie toe ek die verskriklike pyn onthou wat ek jare gelede vanweë ’n galsteen ervaar het.

Dis interessant dat iets wat so klein is, soveel lyding in die hele liggaam kan veroorsaak. In sekere opsig is dit presies waarna die apostel Paulus verwys: “As een lid ly, ly al die lede saam …” (1 Kor. 12:26). Paulus gebruik in hoofstuk 12 die liggaam deurentyd as metafoor om álle Christene te beskryf. Toe hy geskryf het: “God het die liggaam so saamgestel …” (vs. 24), het hy na die volle liggaam van Christus verwys. Ons het almal verskillende gawes en rolle. Maar omdat ons almal deel is van die een liggaam, raak een se seerkry álmal. Wanneer ’n medegelowige vervolging, smart of beproewing ervaar, kry ons almal seer asof dit óns pyn is.

My kollega se pyn het hom gedwing om die nodige hulp vir sy liggaam te bekom. Die pyn van een persoon in die liggaam van Christus, vuur ons medelye aan en beweeg ons om op te tree. Ons kan bid, bemoedig, of iets doen wat sal bydra tot die helingsproses. Dít is hoe die liggaam saamwerk.