My tant Kathy het haar pa – my oupa – tien jaar lank in haar huis versorg. Toe hy nog onafhanklik was, het sy vir hom gekook en die huishouding behartig. Toe hy siek word, het sy die rol van ’n verpleegster vervul.

Haar diens is ’n moderne voorbeeld wat gestalte gee aan Paulus se woorde toe hy aan die Tessalonisense geskryf het dat hy en sy medewerkers God dank vir “die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus” (1 Tess. 1:3).

My tante het met geloof en liefde gedien. Haar daaglikse en getroue versorging het voortgevloei uit haar oortuiging dat God haar vir hierdie belangrike werk geroep het. Haar liefde vir God en haar vader het haar laat volhard.

Hoop het haar gedra. My oupa was ’n baie sagte man, en dit was moeilik om te sien hoe hy agteruitgaan. Sy het besoeke aan familie en vriende opgeoffer en haar reise ingeperk om hom te versorg. Sy kon voortgaan omdat haar hoop op God was om haar daagliks te versterk. Sy het ook die vaste hoop gehad dat die hemel my oupa sou verwelkom.

Wees bemoedig terwyl jy die werk doen waartoe God jou geroep het – of dit die versorging van ’n familielid, hulp aan die bure of vrywilligerdiens is. Jou arbeid kan ’n kragtige getuienis van geloof, hoop en liefde uitdra!