’n Koerant in Singapoer het in 2010 ’n berig geplaas oor 8 senior burgers se lewenslesse. Dit het begin: “Terwyl oudword uitdagings bring vir liggaam en verstand, kan dit lei tot wyer kennis op ander gebiede. Daar is ’n oorvloed van emosionele en sosiale kennis; kwaliteite wat deur wetenskaplikes beskryf word as wysheid … die wysheid van ouer persone.”

Inderdaad kan ouer persone ons baie van die lewe leer. In die Bybel is daar egter ’n jong koning wat dit nie besef het nie.

Ons lees in 1Konings 12:4 “… die hele Israel kom na Rehabeam toe …” met ’n petisie. Hulle vra toe die nuwe koning om die swaar juk en verpligtinge wat Salomo hulle opgelê het ligter te maak. In ruil sou hulle hom getrou dien.

Aanvanklik het die koning die ouer mense geraadpleeg. Maar hy het hulle raad verontagsaam en die dwase raad, van die jonges wat saam met hom grootgeword het, aanvaar (vs. 8). Hy het die las nog swaarder gemaak! Sy onbesonnenheid het hom die meeste van sy koninkryk gekos.

Ons almal het die raad wat saam met ondervinding kom nodig, veral van die wat saam met God gestap en na Sy raad geluister het. Dink net aan die opgehoopte wysheid wat God aan hulle gegee het! Hulle het soveel om met ons te deel oor die Here. Kom ons luister na hulle wysheid.