Tydens my studies van die Griekse en Romeinse mitologie aan die universiteit, het dit my getref hoe buierig en kortgebonde die gode in die verhale was. Die objekte van hul woede se lewens is verwoes – dikwels op die ingewing van die oomblik.

Hoe kan enigiemand in sulke gode glo? Toe moes ek myself ook afvra: Verskil my siening van die God wat werklik bestaan enigsins van húlle s’n? Dink ek nie ook maar dat Hy gou kwaad word wanneer ek aan Hom twyfel nie? Ongelukkig, ja.

Moses het God versoek om Sy “magtige verskyning” (Eks. 34:18) te sien. Hy is gekies om ’n groot groep mense, wat dikwels gemurmureer het, te lei. Sou God my inderdaad bystaan? wou Moses weet. Sy versoek is met ’n vertoning van God se voortreflikheid beloon toe Hy Sy Naam en natuur aan Moses bekendmaak: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” (34:6).

Dié vers herinner my daaraan dat God nie impulsief in woede uitbars nie. Dít is gerusstellend, veral as ek terugdink aan die kere wat ek in woede of ongeduld teenoor Hom uitgevaar het. Daarby werk Hy aanhoudend om my na Sy beeld te verander.

God en Sy heerlikheid word weerspieël in Sy geduld jeens ons, die bemoedigende woorde van vriende, ’n mooi sonsondergang, of – die allerbeste – die fluistering van die Heilige Gees in ons harte!