Ná afloop van die Kersvieringe aan die einde van Desember, kies my gedagtes dikwels koers na die komende jaar. Aangesien ons kinders nie meer skoolgaan nie en ons ’n rustige daaglikse roetine volg, besin ek oor my pad van die afgelope jaar asook oor waar ek graag aan die einde van die volgende jaar wil staan. Hiérdie gedagtes gaan dikwels gepaard met pyn en teleurstelling oor die foute wat ek gemaak het. Tog vul die vooruitsig van ’n nuwe jaar my met hoop en verwagting. Ek het weer die geleentheid om nuut te begin ongeag wat die vorige jaar gebeur het.

My verwagting omtrent ’n nuwe begin vervaag in vergelyking met die hoop wat die Israeliete moet gekoester het toe koning Kores van Persië hulle toegelaat het om ná 70 jaar van ballingskap in Babel terug te keer na hul eie land in Juda. Die vorige koning, Nebukadnesar, het die Israeliete uit hul land weggevoer. Die Here het Kores egter aangespoor om die gevangenes na Jerusalem terug te stuur om Sy tempel te herbou (Esra 1:2-3). Kores het ook die skatte wat uit die tempel weggevat is, aan hulle teruggegee. Hul lewens, as die volk van God, het ná ’n lang seisoen van swaarkry in Babel van nuuts af begin in die land wat God aan hulle gegee het.

Wanneer ons ons sonde bely, vergewe God ons en bied Hy ons ’n nuwe begin, ongeag ons verlede.