Aan die einde van die jaar kan die las van onafgehandelde take baie swaar op ons rus. Verantwoordelikhede by die huis en by die werk lyk of dit nooit end kry nie en dit wat nie vandag afgehandel word nie, staan oor tot môre. Maar daar is tye in ons reis van geloof wanneer ons moet stilstaan en God se getrouheid en die afgehandelde take vier.

Na die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas, “is hulle met ’n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het.” (Hand. 14:26). Terwyl daar steeds baie was om te doen om die boodskap van Jesus met ander te deel, het hulle tyd afgestaan om dank te betuig vir wat reeds gedoen is. “By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het.” (vs. 27)

Wat het God deur jou gedoen die afgelope jaar? Hoe het Hy die deur van geloof geopen vir dié wat jy ken en liefhet? Hy werk deur ons met take wat nietig of onvoltooid voorkom op maniere wat ons nie self kan bedink nie. Wanneer ons pynlik bewus is van ons onafgehandelde take vir die Here, laat ons nie vergeet om Hom te dank vir die wyse waarop hy met ons werk nie. Blydskap oor wat God in Sy genade gedoen het, berei ons voor vir wat voorlê!