Toe ek pas ’n gelowige in Jesus geword het, het ’n geestelike mentor my aangemoedig om ’n dankbaarheidsjoernaal te hou. Dit was ’n boekie wat ek oral by my gedra het waar ek gegaan het. Partykeer het ek ’n eerbewys dadelik opgeskryf. Ander kere het ek dit neergeskryf tydens ’n oomblik van bepeinsing.

Om ag te slaan op punte van verheerliking is ’n goeie gewoonte – een wat ek oorweeg om weer in te stel in my lewe. Dit sal my oplettend maak vir God se teenwoordigheid en dankbaar vir Sy voorsiening en sorg.

In die kortste psalm, Psalm 117, moedig die skrywer almal aan om die Here te loof “want sy liefde vir ons is sterk,” (vs. 2)

Dink ’n bietjie na: Hoe het die Here Sy liefde vandag, die week, die maand en die jaar aan jou betoon? Moet nie net kyk na die skouspelagtige nie. Sy liefde kan gesien word in die gewone, alledaagse omstandighede van die lewe. Oorweeg dan hoe Hy Sy liefde betoon aan jou familie, jou kerk, en aan ander. Laat jou denke dan die uitgestrektheid van Sy liefde vir ons almal inneem.

Die psalmdigter het bygevoeg: “aan die trou van die Here is daar geen einde nie.” (vs. 2) Met ander woorde, Hy sal aanhou om ons lief te hê! Ons sal baie dinge hê waarvoor ons God kan prys in die komende dae. As Sy geliefde kinders, mag lofprysing en dankbetuiging aan God ons lewe kenmerk!