Toe Andrew Cheatle sy selfoon op die strand verloor het, het hy gedink dis vir altyd weg. ’n Week later skakel Glen Kerley hom. Hy het die foon, in ’n werkende toestand, uit ’n bykans 12kg-kabeljou gehaal.

Die lewe is vol vreemde verhale, en ons kry meer as genoeg in die Bybel. Eendag het belastinggaarders na Petrus gekom en geëis: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?” (Matt. 17:24). Jesus het die situasie verander in ’n les. Hy wou dat Petrus Sy rol as koning verstaan. Belasting is nie van die koning se kinders gevorder nie, en die Here het dit duidelik gemaak dat nie Hy of Sy kinders enige tempelbelasting verskuldig was nie. (vs. 25-26).

Jesus was versigtig om nie “aanstoot [te] gee nie” (vs. 27).Hy het vir Petrus opdrag gegee om te gaan visvang. Petrus het ’n muntstuk in die bek van die eerste vis gevind.

Wat op aarde doen Jesus hier? Anders gestel, “Wat is Jesus besig om in God se koninkryk te doen?” Hy is die regmatige Koning – hoewel baie Hom nie as sodanig erken nie. Wanneer ons Hom as Here in ons lewens aanvaar, word ons Sy kinders.

Die lewe sal sy vereistes aan ons stel, maar Jesus sal voorsien. Soos pastoor David Pompo dit gestel het, “Wanneer ons visvang vir ons Vader, kan ons op Hom vertrou om alles te voorsien wat ons nodig het.”