Ons was opgewonde om te trek. Maar die onbekende en gepaardgaande uitdagings het my onrustig laat voel. Gedagtes van uitsorteer en besittings inpak. Blyplek soek. Ek moet nuwe werk soek. Om ’n nuwe stad te leer ken, en gevestig te raak. Dit was alles … verwarrend. Soos ek aan my “om te doen” lysie gedink het, het die woorde van die apostel Paulus in my kop gedraai: Moenie bekommer nie, maar bid (Filippense 4:6-7)

As enigeen beangs moes wees oor die onbekende en uitdagings, sou dit Paulus wees. Hy het skipbreuk gely. Hy was geslaan. Hy was in die tronk gegooi. In sy brief aan die kerk in Filippi het hy sy vriende, wat ook die onbekende moes trotseer, aangemoedig met die woorde: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (vs. 6)

Paulus se woorde is bemoedigend vir my. Die lewe is nie sonder onsekerhede nie – hetsy lewensbelangrike verandering, familiesake, gesondheidsrisiko’s, of finansiële probleme. Wat ek deurlopend leer is dat God vir ons omgee. Hy nooi ons om al ons vrese oor die onbekende te laat vaar deur dit vir Hom te gee. As ons dit doen, belowe Hy, wat alles weet, Sy vrede “wat alle verstand te bowe gaan,” om oor ons harte en gedagtes wag te hou in Jesus Christus. (vs. 7).