’n Besoekende orkes het lofsange en aanbidding gelei in ons kerk en hul passie vir die Here was roerend. Ons kon hulle geesdrif sien – en aanvoel.

Die musikante onthul toe dat hul almal gewese gevangenes was. Hulle liedere het ’n spesiale betekenis aangeneem. Ek kon sien waarom hul lofprysing soveel vir hulle beteken het. Hul aanbidding was getuienis van gebroke lewens wat herstel is.

Die wêreld mag sukses najaag, maar stories van mislukking bied ook hoop. Dit verseker ons dat God ons liefhet ten spyte van die kere wat ons misluk. Pastoor Gary Inrig sê dat die ‘Geloofsaal’ van Hebreërs 11, netsowel die Saal van Oorwonne Mislukkings genoem kan word. “Daar is nouliks ’n individu in daardie hoofstuk sonder ’n ernstige klad op sy of haar lewe,” merk hy op. “Maar God is in die bedryf om mislukkings te herstel … Dit is ’n besondere beginsel van God se genade.”

Ek geniet die vertroosting van Psalm 145, wat praat van God se “magtige dade” (vv. 5-6) en “koninklike mag” (vs. 11). Dit beskryf Sy barmhartigheid (vv. 8-9) en getrouheid (vs. 13) – en vertel ons dat Hy dié optel wat geval het (vs. 14). Al Sy eienskappe word geopenbaar wanneer Hy ons optel. Hy is inderdaad in die opknappingsbedryf.

Het jy al misluk? Ons het almal. Is jy al herstel? Almal wat vrygekoop is, is verhale van God se genade.