In Japan word baie klem gelê op gehalte, kwaliteit, voorkoms en smaak van voedselprodukte. Gevolglik gebeur dit dat produkte met slegs ’n geringe defek dikwels afgekeur word. “Wakeari” beteken “daar is ’n rede” in Japanees. “Wakeari”produkte word nie weggegooi nie, maar vir ’n rede goedkoper verkoop – bv. ’n ryskoekie met ’n kraak daarin – en is baie gewild by gebruikers.

Volgens my Japanese vriend word die woord “wakeari” ook gebruik vir mense wat ’n effense gebrek of afwyking het.

Jesus het alle mense lief – ook die “wakeari” wat deur die samelewing verwerp word. Daar was byvoorbeeld ’n sondige vrou wat gehoor het dat Jesus by ’n Fariseër se huis gaan eet het. Sy het daarheen gegaan en huilend agter Jesus by Sy voete gekniel (vs. 37-38). Die Fariseër het die vrou ’n sondares genoem (vs. 39), maar Jesus het haar aanvaar. Hy het saggies met haar gepraat en haar verseker dat haar sondes vergewe is (vs. 48).

Jesus het onperfekte “wakeari” mense lief –en dit sluit jou en my ook in. Die grootste demonstrasie van Sy liefde is dat “Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (vs. 8). Mag ons dus as ontvangers van Sy liefde kanale wees waardeur Sy liefde na ander vloei en hulle kan besef dat hulle, ongeag hulle onvolmaakthede, God se liefde kan ontvang en ervaar.