Denise het baie meegevoel gehad met ’n seergemaakte vrou wat sy by haar kerk ontmoet het en besluit het om te probeer help. Sy het haar elke week met raad bedien, saam met haar gebid en naderhand haar mentor geword. Maar sommige kerkleiers het Denise se pogings nie raakgesien nie en iemand anders aan die vrou as mentor toegewys.

Alhoewel Denise nie enige krediet vir haar opoffering verwag het nie, kon sy nie anders nie as om ietwat ontmoedig te voel, “asof ek niks gedoen het nie,” het sy gesê.

Die vrou het egter eendag vir Denise bedank en gesê hoe baie sy dit waardeer het. Dit het Denise weer bemoedig. Dit was asof God vir haar gesê het Hy weet dat sy daar is vir die vrou. Tans ontmoet Denise die vrou steeds op ’n gereelde basis.

Ons voel ook soms ongewaardeerd wanneer ons pogings om goed te doen nie raakgesien word nie. Maar die Bybel wys ons daarop dat God altyd weet wat ons doen. Hy sien raak wat ander nie raaksien nie. Dit behaag Hom as ons ander om Sy eer dien –nie vir ’n mens se eer nie.

Miskien is dit hoekom Jesus ons leer om ons goeie dade in die “geheim” te doen – want “jou Vader wat in die hemel is, sal jou beloon” (Matt 6:4). Ons hoef nie na ander te kyk vir erkenning nie; ons kan aanvaar dat God weet wanneer ons getrou is in ons diens aan Hom en andere.