Toe ek en my man gevra is om ’n klein groepie in ons huis te ontvang, wou ek onmiddellik weier. Ek het onbekwaam gevoel. Daar was nie sitplek vir almal nie en die huis te klein om baie mense te akkommodeer. Was ons bekwaam genoeg om die besprekings te fasiliteer? En as ek kos moet voorberei? Die passie en fondse daarvoor het ontbreek. Ek het gevoel ons het nie “genoeg” om dit te kan doen nie. Ek het gevoel ek was nie “voldoende” nie. Ons wou egter aan God en ons gemeenskap teruggee, dus het ons ten spyte van ons vrese ingestem. Oor die volgende vyf jaar was dit vir ons ’n groot vreugde om die groep in ons sitkamer te verwelkom.

Ek herken dieselfde huiwering en twyfel in die man wat die brood na Elisa, die dienskneg van God, gebring het. Elisa het hom beveel om dit vir die mense te gee, maar die man het beswaar gemaak. Hoe kon 20 brode 100 mans voed? Dit lyk asof hy die brood wou terughou, want, volgens sy menslike redenasie, was dit nie genoeg nie. Tog was dit meer as genoeg (2 Kon. 4:44), want God het die geskenk wat hy in gehoorsaamheid gegee het, geneem en dit genoeg gemaak.

Wanneer ons onbekwaam voel, of dink dat dít wat ons kan aanbied nie voldoende is nie, behoort ons te onthou dat God ons vra om wat ons het, in getroue gehoorsaamheid te gee. Hý maak dit “genoeg”.