Op pad werk toe het ek na die liedjie: “Dear younger me,” geluister. Daarin word die vraag gestel: As jy met al die kennis waaroor jy tans beskik kon teruggaan na die verlede, wat sal jy vir jou jonger self vertel? Ek het gedink aan die brokkies wysheid en vermanings wat ek my jonger, minder wyse self sou gee. Die meeste van ons het iewers in ons lewe al gedink aan hoe ons dinge anders sou doen as ons net weer die kans kon kry.

Die liedjie illustreer dat hoewel ons spyt mag wees oor dinge in ons verlede, word ons deur al ons ervarings gevorm. Ons kan nie teruggaan en die gevolge van ons besluite of ons sondes verander nie. Maar, dank God, ons hoef nie die swaar laste en foute van die verlede saam met ons te dra nie. Dít op grond van wat Jesus gedoen het! “In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood ...” (1 Pet. 1:3).

As ons met geloof en bedroef oor ons sondes na Hom toe draai, sal Hy ons vergewe. Op daardie dag word ons splinternuut gemaak en neem die proses van geestelike transformasie ’n aanvang (2 Kor. 5:17). Wat ons gedoen of nié gedoen het nie, is nie van belang nie. Ons is vergewe op grond van wat Hy gedoen het! Ons kan vorentoe gaan, vandag ten beste benut en ’n toekoms saam met Hom verwag. In Christus is ons vry!