Ek het Maria elke Dinsdag gesien wanneer ek “die Huis” – ’n tehuis wat voormalige gevangenes help om weer hul plek in die samelewing in te neem – besoek het. My lewe was anders as hare: pas bevry uit die tronk het sy verslawing beveg en is sy van haar seun geskei. Jy kan sê sy het op die rand van die samelewing geleef.

Soos Maria, het Onesimus geweet wat dit beteken om op die rand van die samelewing te leef. As ’n slaaf het Onesimus blykbaar sy Christelike meester, Filemon, verontreg en is hy tronk toe gestuur. Terwyl hy daar was, het hy Paulus ontmoet en tot geloof in Christus gekom (vs. 10). Alhoewel Onesimus verander het, was hy steeds ’n slaaf. Paulus stuur hom terug na Filemon met ’n brief wat daarop aandring om Onesimus “nie langer net as ’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf: as ’n geliefde broer”, te ontvang (1:16).

Filemon het ’n keuse: hy kan Onesimus as sy slaaf beskou of hom as ’n broer in Christus verwelkom. Ek het ook ’n keuse om te maak. Sal ek Maria as ’n gewese gevangene beskou, of as ’n vrou wie se lewe deur die krag van Christus verander is? Maria was my suster in die Here.

Dit is maklik om toe te laat dat die mure van sosio-ekonomiese status, klas, of kulturele verskille ons skei. Die evangelie van Christus verwyder dié hindernisse en verander  ons lewens en verhoudings vir ewig.