Tydens ’n bespreking van die rolprenttrilogie: The Lord of the Rings, het ’n tiener gesê hy verkies sy stories eerder in boeke as in rolprente. Toe hy daaroor uitgevra is, antwoord die jong man: “Met ’n boek kan ek daar bly so lank as wat ek wil.” Daar is iets te sê omtrent die krag om in ’n boek te talm – veral in die Bybel – en jou met die karakters in die verhale te vereenselwig.

Hebreërs 11, wat dikwels “die geloofshoofstuk” van die Bybel genoem word, noem 19 persone by die naam. Elkeen het op sy pad probleme en twyfel ervaar, maar nogtans gekies om God te gehoorsaam. “Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is” (vs. 13).

Hoe maklik is dit nie om deur ons Bybel te haas sonder om oor die mense en gebeure in die teks te dink nie. Ons selfopgelegde tydskedule beroof ons daarvan om dieper in God se waarheid en Sy plan vir ons lewens te delf. Tog, wanneer ons bereid is om ’n rukkie te talm, raak ons vasgevang in die werklike lewensdramas van mense soos ons wat gekies het om hul lewens op God se getrouheid te plaas.

Wanneer ons God se Woord oopmaak, is dit goed om te onthou dat ons daar so lank kan bly as wat ons wil.