Tham Dashu het gevoel iets ontbreek in sy lewe. Hy het begin kerk toe gaan – na dieselfde kerk wat sy dogter bygewoon het. Maar nooit saam nie. Vroeër het hy haar te na gekom en dit  het ’n wig tussen hulle ingedryf. Tham het inglip sodra die lofprysing begin, en het ná die diens die kerk dadelik verlaat.

Gemeentelede het die evangelie met hom gedeel, maar Tham het hul uitnodiging om sy geloof in Jesus te plaas altyd beleefd verwerp. Tog het hy steeds gereeld kerk toe gegaan.

Op ’n dag het Tham ernstig siek geword. Sy dogter het moed geskep en vir hom ’n brief geskryf. Sy het vertel hoe Christus haar lewe verander het, en so het sy versoening met haar pa teweeggebring. Daardie aand het Tham sy geloof in Jesus geplaas en die gesin is versoen. ’n Paar dae later het Tham gesterf en die teenwoordigheid van Jesus binnegegaan – in vrede met God en sy geliefdes.

Die apostel Paulus het geskryf dat ons moet probeer om mense te oortuig van die waarheid van God se liefde en vergifnis (2 Kor. 5:11). Hy het gesê “die liefde van Christus dring ons” om Sy werk van versoening uit te voer (vs. 14).

Ons bereidwilligheid om te vergewe mag ander help om te besef dat dit God se begeerte is om ons met Homself te versoen (vs. 19). Sal jy vandag op God se krag steun om Sy liefde aan hulle te bewys?