“Doen God iets nuuts in jou lewe?” Dít was die groepleier se vraag. My vriendin Mindy, wat moeilike situasies in die gesig staar, het gereageer. Sy het vertel van die behoefte aan geduld met haar bejaarde ouers, stamina vir haar man se gesondheidskwessies en begrip vir haar kinders en kleinkinders wat nog nie gekies het om Jesus te volg nie. Toe het sy ’n insiggewende opmerking, in teenstelling met wat ons normaalweg sou dink, gemaak: “Ek glo die nuwe ding wat God besig is om te doen, is om my vermoë en geleenthede om lief te hê, uit te brei.”

Dit vergelyk goed met die apostel Paulus se gebed vir die nuwe gelowiges in Tessalonika: “Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle” (1 Tess. 3:12). Hy het hulle van Jesus geleer, maar weens onluste moes hy hulle skielik verlaat (Hand. 17:1-9). In sy brief het hy hulle aangemoedig om voort te gaan om in hulle geloof vas te staan (1 Tess. 3:7-8). Hy het ook gebid dat die Here hul liefde vir almal sou laat toeneem.

Wanneer ons swaarkry, kies ons dikwels om te kla en Waarom? of Waarom ek? te vra. Ons kan ook die Here vra om Sy liefde in ons harte te laat groei en ons te help om die nuwe geleenthede om ander lief te hê, aan te gryp.