Die dokter se woorde het soos ’n klip in haar hart geland. Dit was kanker. Haar wêreld het tot stilstand geruk toe sy aan haar man en kinders dink. Hulle het getrou gebid en op ’n ander uitslag gehoop. Wat moes hulle doen? Met trane oor haar wange het sy saggies gesê: “God, dít is buite ons beheer. Wees asseblief ons sterkte.”

Wat staan ons te doen wanneer die prognose verdoemend is, wanneer ons omstandighede buite ons beheer is? Waarheen draai ons wanneer die uitsig hopeloos lyk?

Die profeet Habakuk se situasie was buite sy beheer, en die angs wat hy ervaar het, het hom verskrik. Die komende oordeel sou katastrofies wees (Hab. 3:16-17). Tog het Habakuk, te midde van die aansnellende chaos, ’n keuse gemaak en besluit om in die geloof te lewe en hom in God te verbly (3:18). Hy het nie sy vertroue en geloof in sy omstandighede, sy vermoëns of hulpbronne geplaas nie, maar in die goedheid en grootheid van God. Sy vertroue in God het hom gedring om te verklaar: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop” (v. 19).

Wanneer ons vasgevang is in moeilike omstandighede soos siekte, ’n familiekrisis of finansiële probleme, kan ons ook slegs ons geloof en vertroue in God plaas. Hy is met ons in elke saak wat ons moet hanteer.