Die bejaarde vrou wat in die ouetehuis woon, het nie met enigiemand gepraat of enigiets gevra nie. Dit het gelyk asof sy bloot bestaan, sy het heen en weer in haar krakende ou stoel gewieg. Sy het nie baie besoekers gehad nie, daarom het ’n jong verpleegster tydens haar aftye haar dikwels in haar kamer besoek. Sonder om die vrou vrae te vra om haar te probeer kry om te praat, het sy net ’n ander stoel nadergetrek en saam met haar gewieg. Na ’n paar maande het die bejaarde vrou vir haar gesê: “Dankie dat jy saam met my wieg.” Sy was dankbaar vir die geselskap.

Voordat Hy terug is hemel toe het Jesus aan Sy dissipels belowe om vir hulle ’n konstante metgesel te stuur. Hy het vir hulle gesê Hy sal hulle nie alleen los nie, maar sal die Heilige Gees stuur om in hulle te bly (Johannes 14:17). Daardie belofte is vandag steeds waar vir gelowiges in Jesus Christus. Jesus het gesê dat die drie-enige God Sy “tuiste” by ons sal maak (Johannes 14:23).  

Die Here is ons hele lewe lank ons nabye en getroue metgesel. Hy sal ons deur ons diepste worstelinge lei, ons sondes vergewe, elke stille gebed hoor, en die laste wat ons nie kan dra nie, namens ons dra.

Ons kan vandag Sy aangename geselskap geniet.