Toe ek in Jamaika grootword, het my ouers  my en my suster as “goeie mense” grootgemaak. In ons huis het goed beteken om ons ouers te gehoorsaam, die waarheid te praat, om suksesvol op skool en in ons werk te wees, en kerk toe te gaan … minstens Paasfees en Kersfees. Ek dink dié definisie van ’n goeie mens is aan baie mense, ongeag hul kultuur, bekend. Trouens, in Filippense 3, gebruik Paulus sy kultuur se definisie van goed wees om ’n groter impak te maak.

Paulus, ’n toegewyde eerste-eeuse Jood, het hom by die letter van die morele wet in sy kultuur gehou. Hy is in die “regte” familie gebore, het die “regte” opvoeding gehad, en die “regte” godsdiens beoefen. Hy was, volgens Joodse gebruik, die ware Jakob in terme van ’n goeie persoon. In vers 4 skryf Paulus dat hy met al sy goedheid kon spog, as hy wou. Maar, so goed as wat hy was, het hy aan sy lesers (en ons) gesê daar is meer as om goed te wees. Hy het geweet dat om goed te wees, terwyl jy goed is, nie dieselfde is as om God te behaag nie.

Om God te behaag, skryf Paulus in verse 7-8, behels dit om Jesus te ken. Paulus beskou sy eie goedheid as “waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” Ons is goed – en ons behaag God – wanneer ons hoop en vertroue in Christus alleen is en nie in ons eie goedheid nie.